Die Anglo-Boereoorlog word beëindig met die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902. Een van die gevolge van die Anglo-Boereoorlog was baie weeskinders (ook in Heidelberg-distrik). Die weeskinders word nie opgeneem in een van die twee bestaande skole op Heidelberg nie, want beide is onder Engelse beheer (regeringskole). Ds. A.J. Louw tree op deur die kelderkamer van die Klipkerk (ook bekend as die “Grot van Abdullam”) as klaskamer beskikbaar te stel met Mejj. Anna Basson en Katie Human as leerkragte.
Verset teen die Engelse se onderwysstelsel neem toe en C.N.O.-skole word gestig. In Heidelberg word die C.N.O-skool gestig in Julie 1903 met die naam “Volkskool” en mnr. T.A. Dönges as hoof. Benewens die kelderkamer word die Van Belkum-saal ook as klaskamer gebruik.
Die toename in leerders maak ‘n skoolgebou noodsaaklik. Dit word moontlik gemaak deur die skenking van geld en n groot erf deur die broers D. en W. Bezuidenhout en hul swaer C. Meyer. Die hoeksteen word op 27 Oktober 1906, deur genl. Schalk Burger gelê. Die inwyding het plaasgevind op 11 Januarie 1907 en op 15 Januarie 1907 is die gebou in gebruik geneem.
Teen 1913 het die getalle sodanig gestyg dat ‘n skeiding gemaak moes word tussen die “hogere” en “lagere” Afdelings. In September 1914 het die Skoolraadsekretaris kennis ontvang dat die aansoek om ‘n hoërskool goedgekeur is. Op 20 Januarie 1915 is die eerste leerders op die rol aangebring en die amptelike opening het plaasgevind op 26 Januarie 1915 deur mnr. Adamson, toenmalige Direkteur van Onderwys.
Mr. A.J. (“Meester”) Louw is as die eerste hoof aangestel. Die res van die personeel was J.J. Langenegger (Wiskunde), K. Bonsma (Nederlands en Geskiedenis), Wm. McCagie (Engels en Wetenskappe), J.K. Scholtz (Latyn en Grieks), J.P. Malan (Wiskunde), W.M. Viljoen (Nederlands en Aardrykskunde), Mej. A. Vaughan (Engels en Aardrykskunde), Mej. M. Meiring (plantkunde).
Benewens die akademie, het die kultuur en sport gou hul beslag gekry. Kultuur in die vorm van ‘n Debatsvereniging, Christen Studentevereniging, ‘n Skoolblad wat in 1916 die lig gesien het en die Orpheumvereniging wat in 1917 gestig is “om deur middel van koor en orkes ‘n gesonde smaak vir goeie musiek te ontwikkel.”
Behalwe rugby wat alreeds in 1914 sy beslag gekry het, is daar ook met oorgawe deelgeneem aan atletiek, tennis, korfbal, hokkie en krieket.
Teen 1918 het die Volkskool te klein begin word vir al die leerders en toestemming is gegee vir die bou van ‘n hoërskool op 8 September 1919 is die hoeksteen deur die destydse Administrateur van Transvaal, mnr. A.G. Robertson gelê . Laasgenoemde het op 3 Februarie 1922 die amptelike opening waargeneem waartydens die skoollied (geskrywe deur ‘n oud-Volkie, ds. Harper Martins en later verwerk deur Dr. A.G. Visser) vir die eerste maal gesing is.
Die skoolkleure en -wapen is toe ook in gebruik geneem. Vir die keuse van die kleure was Meester Louw verantwoordelik (Groen vir die frisse jeug, Goud vir die adel van karakter en Wit vir reinheid). Die skoolwapen is ontwerp deur mnr. J.P. Malan (Voortrekkerwa: Simboliseer die grondlegging van die Boerebeskawing in die noorde; Die lamp: die lig wat ‘n Volkie moet versprei; Die ploeg: Die arbeid wat verrig moet word en die slagspreuk: Vir Volk en Vaderland).
In 1922 is die Administrateurbeker vir rugby ingestel wat vir die eerste maal in 1925 deur HVH verower is en in die jare daarna nog ses maal.
HVH was ook die eerste tuiste van die Administrateurbeker vir Krieket (1928) en daarna is die beker nog vir talle jare verower.
‘n Hoogtepunt was ook die verkryging van ‘n skoolsaal en die opening daarvan in 1928 deur die toenmalige Administrateur, mnr. Jan Hofmeyr.
By die hoofdeur van die saal pryk tot op hede ‘n sierlike mev. Springfontein en mnr. Palm wat geskenk is deur “Meester” Louw (hulle moet besiel en waghou oor die tradisies van die skool).
Na “Meester” Louw se vertrek in 1928 is mnr. Markötter as hoof aangestel.
1933: Leerlingraad funksioneer vir die eerste maal.
1934: Mnr. Stephen H. Eyssen aangestel as hoof.
1936: Skool word mondig. Leerdertal nou 450.
1940: Skool word ingedeel in kleurspanne.
1944: Jukskei as n georganiseerde sportsoort word ingevoer.
1948: Eerste keer dat standerd sesse deel word van hoërskool.
1949: Dr. A.P. Du Toit aangestel as hoof.
1951: Heelwat nuwe lokale word aangebou as gevolg van ‘n toename in leerlinggetalle (734), onder andere ‘n biblioteek en swembad word ingewy 31 Januarie 1958.
1960: Kerkkoshuise word deur Onderwysdepartement oorgeneem.
1962: Mnr. G.W. Mollett word aangestel as hoof.
1965: Nuwe koshuise word betrek.
1969: Mnr. C.A. Möller word permanent aangestel as hoof. Skool koop nuwe B.M.C Bus (die latere “Ark” wat meer as 30 jaar in gebruik was).
1977: Leerdertal 960.
1981: Nuwe sportterrein word begin.
1982: Mnr. F.S. Bothma aangestel as hoof.
1983: Leerdertal 949. Skool kry 4 weervaste korfbalbane.
1985: Pawiljoen word ingewy.
1989: Skool kry nuwe saal en administratiewe gebou. Hokkie deel Direkteurstrofee met H/S Bergsig.
1993: Eerste jaar as Model C-skool.
1996: Mnr. M.J. Botha as hoof aangestel.
2011: Mnr. H.A.P.D. van der Hyde aangestel as hoof
2014: Leerdertal 904
2015: Skool word 100 jaar oud / Mnr. J.H. Pieterse as hoof aangestel.
2016: Sportkantoor kom tot stand
2018: Fasiliteite word opgegradeer
2018: Bianca Erasmus verteenwoordig Suid-Afrika by die Junior Olimpiese spele in hoogspring
2019-2020: Mnr. C.W. De Villiers Waarnemende hoof
2020: Mnr. J.J. Botha word aangestel as hoof
2020 – 2021: Opgradering van swembad, tennis- en netbalbalbane – nuwe kafeteria